In 1906 is die eerste staatsondersteunde skooltjie met ‘n leerdertal van 33 in die “kasarm” gestig. Die Sabbatariërs, van wie die gebou gehuur is, wou egter in 1920 nie die huurkontrak verleng nie, en die kinders moes tydelik in ‘n waenhuis sonder vensters skoolgaan! Die leerdertal het toe reeds op 68 gestaan. Vandag is die kasarm ‘n woonhuis.
‘n Nuwe skool, bestaande uit twee klaskamers, is in 1921 in gebruik geneem. Hierdie gebou bestaan ook steeds en is pragtig opgeknap nadat dit jare lank as plaasstoor diens gedoen het. Dit huisves tans die restaurant Filly & Vine (voor 2011 bekend as Outdoor Arena).
Teen die vroeë dertigerjare het die leerlingtal tot so ‘n mate gegroei – min of meer 140 leerders – dat die departement die kerksaal teen R5 per maand moes huur. Die pragtige kerksaal is in 1922 opgerig as buitepos van die Robertsongemeente en is vandag ons skoolsaal.
Die eerste geboue van die huidige skoolterrein is in 1935 betrek en in 1939 het die skool ‘n volwaardige hoërskool geword met 308 leerders en 12 onderwysers! Die jare 1940 tot 1947 sien die oprigting van die eerste sportgronde, nog twee klaskamers asook ‘n biblioteek. Die sportgronde het bestaan uit ‘n rugbyveld, twee netbal- en tennisbane, kleedkamers en ‘n kombuis.
In 1951 het die departement die kerksaal asook ‘n aangrensende kerkkoshuis vir 7000 pond gekoop. (Vandermerwe Gemeente se nuwe kerkgebou is in Februarie 1952 ingewy.) ‘n Nuwe koshuisgebou is in dié tyd in gebruik geneem. Na die aardbewing in 1969 is die koshuis opgeknap en gemoderniseer. Die voorbereidingskool word in 1956 voltooi en die kerkkoshuis maak plek vir die houtwerkklas, wat saam met die kunsklasvleuel in 1958 voltooi word. Op 25 November 1960 is die swembad ook ingewy. (Kostes: 5580 pond – die eerste kosteberaming is reeds in 1946 gedoen, en was 300 pond!) In hierdie tyd het die dorp ook elektrisiteit (1950) en lopende huishoudelike water (1953) gekry.
Die huidige tennisbane is in die vroeë sestigs gebou en het 2250 pond gekos. Kort daarna is die grond waarop die atletiekbaan asook rugbyveld vandag is, deur die departement aangekoop. Diegene wat rondom 1970 leerders was, onthou nog goed hoe oud en jonk help gras plant het! Danksy die sportliefde oor baie jare van ywerige ouers, onderwysers en leerders, is Hoërskool Bonnievale se atletiekbaan vandag by verre die beste in die Langebergstreek.
Tussen 1983 en 1985 is die skoolsaal verbeter en kleedkamers is aangebou. Daar is ook ‘n hele rits nuwe geboue opgerig: die personeelkamer, huidige mediasentrum, ‘n laboratorium vir natuur- en skeikunde asook biologie, die hoof en sekretaresse se kantore, die kopiëerkamer en die houtwerktekenkamer. Die huidige teeroppervlakke is gegooi met die oog op parkering, netbalbane en liggaamlike opvoeding. Die swembad, wat destyds baie dieper was met ‘n hoë duikplank, is herbou met ‘n nuwe pomphuis. Dit is die enigste skoolswembad in die streek wat deur al die jare in stand gehou en benut is.
Hoërskool Bonnievale word steeds met liefde en ywer verbeter en in stand gehou deur ‘n span toegewyde ouers en personeel. Ons is dankbaar vir almal wat oor die jare hul stempel hier afgedruk het!
-Matriekklas 2011
Skoolhoofde van Hoërskool Bonnievale
1906 Mnr PAC Weideman
1921 Mnr JE Irwin
1931 Mnr SW Pienaar
1933 Mnr Möhr
1939 Mnr Möhr hoof
1942 Mnr GF Muller
1961 Mnr J Nelson
1963 Mnr JA Theron
1970 Mnr JC Coetzee
1973 Mnr GJ le Roux neem waar
1973 Mnr SWJ van der Merwe
s.a. – 1996 Mnr J Crafford
1997 Mnr HJ Stapelberg
2003 Mnr JC Els
2022 Mnr S Prins